Thursday, 4 August 2011

Snuffel

'n Snuffelstorie

So elke dan en wan vlug ek op 'n winderige dag van Strand af Stellenbosch toe.  In meer beskutte smal straatjies 'speel'

Bly by!

Bly by of kry jou ry!

Die meeste van ons middeljarige of ouer Afrikaners se taal-verwysingsraamwerk is nog sonder die vreemde. moderne neologismes en nuutskeppinge ; ons herinneringe loop nog op ou volksvoetpaadjies met eenvoudige, ouderwetse tong-in-die-kies taalduwweltjies en -diamante.

Kom grawe saam met my 'n paar erfenis-dolosse uit "de oude doos", want dis mos weer Woordfeestyd!

Eintlik is dit hier in die Kaap mos, kom wat wil , áltyd, énige plek, iéwers feestyd.  

In my wysheid wat met die grysheid kom, slaan ek die doen en late en rumoer van feesgangers gade, soos 'n ou uil op 'n kluit :

Kleuters rol bollemakiesie en tiekiedraai of wieliewalie hier onder ons voete, kinders eet spookasem en kou aan lang swart repe liekeries,  speel blikaspaai  en ellierose tussen die grootmense, want kleine muisies het mos grote ore; hulle mag mos net gesien en nie gehoor word nie.

Opgeskote Miekiemuise, nog nat agter die ore , loer deur die onderdeur vir die guitige, opgedolliede bakvissies met al hul fieterjasies, wat so lig katvoet loop en flikkers gooi . Ek sien 'n ding kom - pasop vir vingertjies verbrand! Na lagge kom huile, het my ma altyd gesê, maar deesdae (dink ekke mos) is  vóórsorg beter as nasorg!

Bierpense , bokkapaters en silwer maanhaarjakkalse staan rond vir kwaadgeld , kwylend van al die KWV-knertsies en beloer die begeerlike lekkerlyf,vooruitstrewende en akterbakse vroumense (met mosbolletjies een vir jóu, een vir mý!), want deur die draad vreet is darem so lekker! Hierts jou.....! Die gras anderkant die draad is mos altyd groener.

Hul eie wederhelftes in kombuisvoorskote werk skofte in die sweet van hul aanskyns agter die kontreikos-tafels wat  kreun onder smoorsnoek, blindevinke, hotnotskool, afvalpofadders, slaphakskeentjies, geelrys-en-rosyne, koesisters,  Ta' Suzie se vetkoek, armmanspoeding , koekbegrafnis en vir die laaste gaatjie nog, 'n Herzoggie.

Die son brand  vroegdag  gate in ‘n mens , maar agtermiddag se kant trou jakkals met wolf se vrou  en voor jy weet waar jy is, begin dit oumeide met knopkieries reën. Dan is dit amper aand, tyd vir die  Muskaat-klub se skoorsoek en pittighede , die pensklavierbekfluitjie , kitaar en langarm sokkie-sokkie, tot jy stof trap en moet pasop vir die nat gras!  Dis tyd vir loslit kaperjolle, "Emma, kô lê ma...!, Dis mý matras en jóu kombers, en daar lê die ding!

En as die sekelmaanmaan water gooi, vat jy ook maar die pad kooi toe.

Klippie in die sokkerskoen!

Klippie in die sokkerskoen.


Na drie weke se pendel  tussen lughawes ,stasies en busdepots van Europa se sokkerlande, keer ek met 'n bedremmelde gemoed en 'n hinderlike klip in my skoen terug Moederstad toe.

Op SAL sien ek 'n slagspreuk op die koffiehouer:"Ukuhamba, Kukubona...' (in plein Afrikaans) "om te reis is om te sien". Wat ek gesien het, het my eers laat dink , toe erg bekommer.

Kom ons begin by die lughawes van Madrid en Rome - eersgenoemde 'n katedraal van aluminium, beligting en marmer, 'n stil lughawe met geen afkondigings om die stilte te versteur nie. Elke 50 treë uitmekaar is daar 'n silwerskoon toilet-suite. Niks maar niks, ontsier die marmervloere nie - geen vuurhoutjie, stompie of stoffie nie.

 'n Automatiese moltreintjie vervoer passasiers tussen tonnels na terminale. Loopbande en roltrappe beweeg geruisloos, elektroniese flitsborde verskaf die nodige inligting. Tot die aantal minute wat dit 'n mens neem om by 'n sekere terminaal of hek uit te kom, word aangedui. Personeel ry op tweewiel-scootertjies om tyd en energie te bespaar! Almal praat gedemp. Veiligheidskameras draai onopsigtelik om ons uit alle hoeke te bespied; sekuriteitspersoneel is duidelik sigbaar.

Op Rome se Fuimicino-lughawe aangekom, wag ons net  vyf minute en wonder bo wonder, ons tassies wat reeds in Kaapstad ingeboek is , arriveer ongeskonde en veilig, sonder dat daaraan gepeuter is. Die slotjies se geheime kodes het diékeer  blykbaar as afskrikmiddel gewerk op Oliver Tambo! Daar is gelukkig geen kougom, of oliekolle of ander onnoembare papperye op die vervoerband nie.

Ek kan nie anders om te dink - Mense, ons het nog 'n ver pad om te loop tot 2010 met hierdie hinderlike klippie in ons (sokker)skoen!!

Op treinstasies word  aankoms en vertrek ook fyn gesinkroniseer; slegs tyd vir oorstap van een platform na 'n ander word toegelaat. Aankondigings word in twee of drie tale gedoen. Buite wag  ‘n bus om jou verder te neem na jou gekose bestemming. Koop asb. eers jou kaartjies vooraf met die regte kleingeld by 'n tabacchi of in die blou masjien en validate dit in die ander geel masjien! Boetes vir trein- en bussluipers word duidelik aangedui. 

Op die stasies kan jy jou eetware koop, jou bagasie laat bewaar, 'n vinnige stortbad neem en vir toilette word .50 Euro (R5)betaal. Busse en treine het geen ontsierende graffiti nie , daarvoor sorg die trotse bestuurders, en uit ordentlikheid waag mens dit nie om te eet en drink terwyl jy pendel nie. Ek haal my hoed af vir die geduldige, vaardige bestuurders wat veilig tussen die verkeer deurvleg!

Die standaard busvervoerprys in die stede is oor die algemeen 1 Euro en 'n entjie verder uit, ongeveer 2.50 Euro (Euro 1 = ongeveer R10).Klaarbetaalde Eurailkaartjies word oral aanvaar en stiptelike kondukteurs beweeg van wa tot wa.

Jy kan Europa kruis en dwars verken met pendelvervoer - tot die kleinste dorpie op 'n heuweltop in Italië is per bus bereikbaar - al wat  nodig is, is geduld en die vrymoedigheid om te vra wanneer jy onseker is. Taxi's, wat jou ore van jou kop af vra, word slegs gebruik deur ryk Amerikaners en dom toeriste! Parkeerplek vir motors is ‘n nagmerrie.

Ons twee vroue wat so alleen gereis het, het nooit êrens bedreigd gevoel nie. (Trek net swart. denim of grys aan en jy smelt saam met die menigte) Watter wonderlike vrye gevoel was dit nie om nooit oor ons skouers hoef te loer, of ons handsakke onder ons arms vas te knyp nie!! Ek het daar tydelik weer my geloof in die mensdom en my naaste herwin!

Miskien moet ek maar sorg dat ek met 2010 se Wêreldokker-tyd  weer landuit is voordat die pawpaw die fan strike! Ek sien al die stakings, verkeersknope, vertragings, toustaan, misdaad en koerantopskrifte! O, wee!

Ek het gegaan en ek het gesien en ek wonder maar net.....


Reüniekoors

Óf jy haat die gedagte aan 'n reünie, óf jy sien daarna uit! Myns insiens hou 'n mens se instelling teenoor so'n samekoms na verloop van baie jare, beslis verband met jou selfbeeld, gesondheid en natuurlik waar jy jou op daardie stadium bevind.


Jy ontvang op ‘n dag 'n lys name deur die pos van een of ander oud-leerling of kollega wat die inisiatief wil neem om so 'n reünie te reël. Die eerste reaksie is beslis verrassing - daarna skop die twyfel en bedenkinge in! Ou foto's word opgeraap om jou te vergewis wie was destyds waar saam met jou in 'n klaskamer of werkskantoor. Dis gewoonlik dan dat die besluit klaar in jou onderbewuste geneem word, al dink jy jy moet jouself nog oortuig of jy regtig lus het daarvoor of nie.


Kom ons veronderstel jy is wel lus daarvoor. Nou moet jy help opspoor, kontak maak, navraag doen en help met die koördinering. Dis nie ‘n ligte takie nie, want "soveel hoofde, soveel sinne!" Elkeen wil sy eiertjie lê, al het hulle jare afsonderlik rondgeskrop op eie werf….


Ek hoor al die reaksies op my brief aan klasmaats van soveel jaar gelede!
"Ag nee,tog nie weer nie...";
"Ek wonder of ek hulle sal herken...";
"Waaroor praat mens met die ouens?";
"Jinne, dit sal nou vir jou 'n ouetehuis-parade wees!";
"Wat sou van so en so geword het?";
"Ek wonder of my ou skoolvryer nog leef?"


Die eerste reünie van ons destydse ou Matriekmaats was in 1990. Van die agt en veertig was ses en dertig teenwoordig, nogal met hulle gades! Party van die afwesiges woon in die buiteland, drie is intussen oorlede, 'n paar het slap verskonings uitgedink.


Die ou skoolkoshuis het gratis verblyf verskaf oor die spesifieke langnaweek, die kerk sou instaan vir drie middagetes, en die plaaslike koerant was oorgehaal , gereed vir ons ontvangs. ’n Dinee is vir eie koste gereël en die dominee sou ons Sondag in die ou NG-kerk verwelkom - gewese lidmate en ander sondaars ook!


Die 'uitkenningsparade' was op die rugbyveld van Vryheid Hoërskool, Kwazulu-Natal. Nogal sports as jy destydse maer seuns nou tussen die boepensbrigade moet uitken en maak asof hulle niks verander het nie! ("Haai, moenie maak asof jy my nie meer ken nie!") Om van die mooie meisies nie te praat nie - ons uurglas-lyfies het beslis met die jare gedy.


Wanneer die her-kennismaking verby is, begin die gesels en uitvraery - daar word eers land en sand uitgewei oor kinders se prestasies en eie "achievements", dan kom die klagtes oor pyne en skete en "wie's dood?"


Teen aand se kant is die gesels se straaltjie heelwat dunner, want baie water het oor die jare in die see geloop. Jy't uitgesorteer by wie jy graag aan die dineetafel wil sit, en vir wie jy nou regtig nie eintlik meer lus het, of kans sien nie!


Hoofseun maak verwelkomingstoespraak, Kaptein van die Sestigers se Eerste Rugbyspan vertel van die ou dae se wenwedstryde, Mooiste Skoolmeisie vertel van haar ou bewonderaars wat tussen die gaste sit en in die aarde wil insak van verleentheid (want onthou hulle is nou vet en bles!). Iemand lees uit haar ou autograph-boekie waar daar in die Muur van Vriendskap geskryf staan:


"When after many years have gone by
and over this page you cast your eye,
remember a friend sincere
that held your friendship dear!"


'n Hele paar koppe sak bewoë. Ja, die jare stap aan. By die volgende reünie (DV) sal ons heelwat minder wees.


Man, maar was dit nou vir jou 'n fees! Onthou mens leef net eenkeer. Gaan gerus volgende keer. My vyftigste is net om die draai in 2010 – baie interessanter as die beoogde Wêreldsokker!



Slaap

Slaap, ‘n alle(nagse) ding                       


Op 'n mens se daglys van dinge doen, word slaap nie eers aangeteken nie; sekerlik nié omdat dit onbelangrik is nie, maar wel omdat jy weet dis vanselfsprekend onvermydelik.

As 'n mens gespaar word op 80 jr oud te word en jy het elke dag van jou lewe 8 uur uit 24 lank geslaap, beteken dit dat jy 'n derde van jou lewe omgeslaap het, dus het jy ongeveer 25 jr. lank in droomland (met of sonder nagmerries!)  deurgebring! En wat kon ‘n mens nie alles met daardie waardevolle  tyd tot jou bekikking nog vermag het nie!

Skokkend? Nee wat,dit hang seker maar af hoe jy hierdie berekening benader of jou slaaptyd beoordeel. Sou  jy dalk iets daaraan kon verander, dalk minder ure slaap?  Die slaap-somtotaal sal wel weer op 'n aardige aantal deurgeslaapte jaar totaliseer! Sou minder slaap iets verander aan jou lewenskwaliteit?



Vir my sal ‘n kort nag se slaap sekerlik nie werk nie, want " wat is die slaap tog 'n wondersoete ding!", aldus D F Malherbe. En rus? Wat is lekkerder as om op te krul of uit te strek met 'n lekker boek of die radio langs jou , en weg te dommel as jou weestand swig? My bed is my beste vriend, vertroueling en sieketrooster. Die drome op my geliefkoosde kussing verruil ek vir geen omkoopgeld op aarde nie.


Slaap is my ontvlugting, my fantasiewereld, my herontmoeting, my ontdekkingsreis! Die groot rede hiervoor is dat Slaap en Droom , wat my betref , onlosmaaklik aanmekaar verbind is.


Partykeer kan ek nie mooi onderskei tussen Droom en Werklikheid nie, want my drome is so werklik! Al verskil is dat die werklikheid roetine-episodies soos ‘n sepie is, maar my daaglikse porsie droom vars, nuut en oorspronkilk - elke keer!


In slaap versmelt jou probleme, (al is dit net tydelik), in die onverdiende bonus van  droom ontdek jy plekke waar jy nog nooit was nie, ontmoet mense wat nie bestaan nie, skakel in op  verrassende kanale van die onderbewuste, ervaar avontuur en ontsnap aan die wrede kloue van die werklikheid;.Drome ken geen perke nie - dis net die mens se paspoort  na Sprokieswêreld.

Slaap is so 'n vanselfsprekende deel van  'n mens se daaglikse roetine. Daarsonder kan die normale gang van 'n lewensdag ontwrig word en ontspoor. Is slaap dalk vir jou 'n ergenis omdat dit jou ontwyk? Ja? Presies, dis die bevestiging van ons afhenklikheid daarvan.



Slaaploses probeer alles in hul vermoë om vrede te maak met slaap en probeer  slaaphipnose op allerlei maniere bewerkstellig. Die waarde en noodsaaklikheid kan derhalwe nooit onderskat word nie. Kyk, om aan slaap te kan raak wanneer jy ouer word, is nie meer kinderspeletjies nie, hoewel ons van kleins af touwys mos gemaak is in die kuns daarvan.


Slaaptyd is mos storievertel-tyd as Ouma See gaan kuier by die kleinkinders. Daarna vertel ek hulle van die droomtonnel agter hul geslote ooglede en hul verbeelding neem verder oor.
 “Ouma-See wat is verbeelding?”
 “ Dis prentjies en stories in jou kop, my lief. Maak jou oë toe en sien wat jy vanaand gaan ontdek!” Oumas,  dit werk soos ‘n bom!

Wat sou die mens tog bereik het as die verjongingskuur van slaap nie ervaar kon word nie? Hoeveel sukses kan nie aan die slaap toegeskryf word, of mislukkings aan die gebrek daarvan,nie?

Uit my vriendekring hier om my, het ek verskeie een-sin uitlatings oor slaap aangeteken;
"- ek  sukkel om te slaap, want my kop is te vol gekoekte draadwerk in die      donker
- vir my is slaap soos 'n stil, sagte omhelsing
- ag man, se maar dis die tweede lekkerste ding in die lewe!
- ek kan nie wag om soggens weer op te staan nie, net om seker te maak  dat ek nog leef!
- dit hang af of dit 'n lekker middagslapie is of 'n lang uitgerekte slaaplose een
- dis my fantasietyd, maar Pieter meen  dis ‘n mors van tyd as jy ouer word!”

 So, waar lê Slaap op jou lys van tien prioriteite?



'n Wolfstorie

WOLF, WOLF, HOE LAAT IS DIT?

Dis kommerwekkend in watter mate ons kinders se fisiese vryheid deesdae aan bande gele word. Waar is die lekker sorgvrye dae van die Boomhuis in die Bos, die Grot in die Berg, die Waterval by die Rivier, die Piekniek op die Geheime Strand? nee, dis nie boekname nie, dis Speel.

Ons kinders se fietse is wielloos opgehang in die motorhuis - wielloos, sodat hulle nie mag ry nie en wielloos sodat die fietse nie sommer maklik gesteel kan word nie.Ouers het die ekstra verpligting om kinders by die skooltrap of terreinhek af te laai en weer te gaan haal, hopelik ongeskonde.Dieselfde geld vir weeklikse en naweek skoolaktiwiteite waar mens hulle eintlik nie uit die oog mag verloor weens verskeie bedreigende faktore soos dwelms, wapens en pornografie op die skoolterrein nie. Nie alle kinders blink egter uit in spansport nie en word onwillige toeskouers.

Is hul dan veiliger tuis , agter mure of tralies en binnenshuis? Moontlik, ja, maar ons moet hul ongelukkig van hul avontuurlus, inisiatief en sosialisering ontneem.Waarmee kan hulle hulself besig hou? Die rekenaar en TV natuurlik (as hul ouers dit kan bekostig), wat ook maar gepaardgaan met  newe-effekte en euwels wat ongesiens insluip.Ons kinders is baie slimmer  en meer vindingryk as wat ons op hul ouderdom was, maar is hulle gelukkiger? Kan hulle nog werklik speel en skaterlag? Maats word onder 'n vergrootglas geplaas, onderwysers en bure, ooms en tannies word met agterdog bejeen.

Bewaar hul sieletjies as hulle sou waag om toktokkie te speel in die meenthuiskompleks, of oor 'n muur sou klim om 'n krieketbal te gaan haal, of met kaskarre in die straat resies te jaag.Hulle mag nie met die hond gaan hardloop nie, want die honde moet aan  leisels wees en mag nie hul ding in die straat doen nie. Dagvaardigings vir rusversteuring of besoedeling is net om die draai! 

Al die lekker dinge van kind-wees is hul nie meer beskore nie.  Partytjies word gehou in ingeperkte lokale met 'n 'veiligheidpersoneel' van ouers wat in skofte toesig hou.Ek hoor nou die dag 'n ma praat: "Ag wat, die Mall is veilig en daar hulle het darem ten minste iets om te doen."  Ek dink by myself:"Suster Anna, speel net  eendag 'n bietjie Spioen!" Vryheid  word nie meer beleef  soos in die verlede nie; dit het 'n heel ander konnotasie gekry by kinders!

Viva, Afrikaans

Afrikaans besig om stadigaan maar seker weg te sink in die meedoënlose dryfsand? Nooit as te nimmer nie! Luister net hoe word hy om jou gepraat, dié reënboogtaal wat strek bo van Messina af tot onder in Muizenberg! Dis 'n lewensvatbare taal wat deesdae gepraat word soos hy op die tong lê - rond , ryk en lekker.
Sewe mense staan voor my in 'n tou om teaterkaartjies te koop. Hulle verskil van ras, kleur, gelaatstrekke en tongval , maar hulle geséls en beduie vir 'n vale! Ons(e) Afrikaans vloei en vermeng in 'n seintuur van kleur.
Daar was mos 'n tyd toe ons voorgeskryf is dat ons moes praat soos ons skryf, maar  deesdae is die bordjies verhang - ons skryf nou soos ons praat.  Rigiete woordelyste en spelreëls is beslis nie meer die Alfa en die Omega vir die Afrikaans van die gewone man-in-die-straat, of gesin-by-die-huis nie.

Ek onthou nog goed watter doodsonde die gebruik van 'n enkele anglisisme in die klaskamer of koerant, op die kateder en kansel was in die jare van isolasie en voorskriftelike taalpuriste. Die infiltrasie van alles wat durf waag het om anders te wees, was met agterdog bejeën en afgekraak. Wee die spreker wat sou waag om "slang" te gebruik! Afrikaans was eens op 'n tyd so styf toegedraai soos 'n mummie (" teen mot of roes bewaar"!).
Afrikaans van die 2000's het egter 'n fris, nuwe vitaliteit. Om al die reënboogsprekers te akkommodeer, is Afrikaans vinnig aan't muteer (die teken van aanpasbaarheid), om by te bly en te oorleef. Tussen die dialekte en aksente in die volksmond, herken en waardeer jy steeds jou moedertaal met sy idioom, humor en nuanses. Dit verg egter die regte instelling of houding van verdraagsaamheid, van lééf en laat leef. Afrikaans gooi ook oor na die ander tale van ons naastes - "ja, sommer lekker, broer!"
Ons taal het die basiese kleure van erfgoed, leengoed en eiegoed, maar met die draai van die eeu het nuwe skakeringe bygekom - innoverende etniese goed en stimulerende elektroniese goed wat ons taal weer 'n hupstoot gegee het, 'n lekker vitaliteit , soepelheid en woema. Net soveel as wat ons spreektaal miskien aan assimilasie en vereenvoudiging afgestaan het, net soveel plek is weer gemaak vir 'nuwe bloed'. Hier in ons reënboogland het ons taal losgeruk van die kniehalters; Afrikaans gedy, bars uit sy nate uit en ons gooi die taal! Jy kan 'n reënboog nie voorspel, inperk of afkamp nie. Dis die taal met die belofte van 'n pot goud vir wenner wat wil aanhou!
Hierdie belofte is deels ook te danke aan die nuwe invloede wat onafwendbaar  ingesluip het - selfoontaal, digitaal, vaktaal en nuutskeppinge om in pas te bly met die voortsnellende eeu. Ons kan rock op die Rittelfees en raas op die rugbyveld... in Afrikaans. Ons kan in ons nuwe kaalvoet, kaalvuis Afrikaans woeker en wedywer, sing, speel en skel, lag en kla!
Ek haal aan uit R K Belcher se gedig (oor die geraamte van  'n dooie voël), maar in konteks van die lewende Afrikaanse taal:
"Haal dan jou sakmes uit
en sny ‘n hol, wit beentjie uit sy bors
en maak daarmee ‘n fluit" 
                                                 (uit Voël)
 Viva, ons kan ons mos uitleef in Afrikaans!