Thursday, 4 August 2011

Bly by!

Bly by of kry jou ry!

Die meeste van ons middeljarige of ouer Afrikaners se taal-verwysingsraamwerk is nog sonder die vreemde. moderne neologismes en nuutskeppinge ; ons herinneringe loop nog op ou volksvoetpaadjies met eenvoudige, ouderwetse tong-in-die-kies taalduwweltjies en -diamante.

Kom grawe saam met my 'n paar erfenis-dolosse uit "de oude doos", want dis mos weer Woordfeestyd!

Eintlik is dit hier in die Kaap mos, kom wat wil , áltyd, énige plek, iéwers feestyd.  

In my wysheid wat met die grysheid kom, slaan ek die doen en late en rumoer van feesgangers gade, soos 'n ou uil op 'n kluit :

Kleuters rol bollemakiesie en tiekiedraai of wieliewalie hier onder ons voete, kinders eet spookasem en kou aan lang swart repe liekeries,  speel blikaspaai  en ellierose tussen die grootmense, want kleine muisies het mos grote ore; hulle mag mos net gesien en nie gehoor word nie.

Opgeskote Miekiemuise, nog nat agter die ore , loer deur die onderdeur vir die guitige, opgedolliede bakvissies met al hul fieterjasies, wat so lig katvoet loop en flikkers gooi . Ek sien 'n ding kom - pasop vir vingertjies verbrand! Na lagge kom huile, het my ma altyd gesê, maar deesdae (dink ekke mos) is  vóórsorg beter as nasorg!

Bierpense , bokkapaters en silwer maanhaarjakkalse staan rond vir kwaadgeld , kwylend van al die KWV-knertsies en beloer die begeerlike lekkerlyf,vooruitstrewende en akterbakse vroumense (met mosbolletjies een vir jóu, een vir mý!), want deur die draad vreet is darem so lekker! Hierts jou.....! Die gras anderkant die draad is mos altyd groener.

Hul eie wederhelftes in kombuisvoorskote werk skofte in die sweet van hul aanskyns agter die kontreikos-tafels wat  kreun onder smoorsnoek, blindevinke, hotnotskool, afvalpofadders, slaphakskeentjies, geelrys-en-rosyne, koesisters,  Ta' Suzie se vetkoek, armmanspoeding , koekbegrafnis en vir die laaste gaatjie nog, 'n Herzoggie.

Die son brand  vroegdag  gate in ‘n mens , maar agtermiddag se kant trou jakkals met wolf se vrou  en voor jy weet waar jy is, begin dit oumeide met knopkieries reën. Dan is dit amper aand, tyd vir die  Muskaat-klub se skoorsoek en pittighede , die pensklavierbekfluitjie , kitaar en langarm sokkie-sokkie, tot jy stof trap en moet pasop vir die nat gras!  Dis tyd vir loslit kaperjolle, "Emma, kô lê ma...!, Dis mý matras en jóu kombers, en daar lê die ding!

En as die sekelmaanmaan water gooi, vat jy ook maar die pad kooi toe.

No comments:

Post a Comment