Thursday, 4 August 2011

Viva, Afrikaans

Afrikaans besig om stadigaan maar seker weg te sink in die meedoënlose dryfsand? Nooit as te nimmer nie! Luister net hoe word hy om jou gepraat, dié reënboogtaal wat strek bo van Messina af tot onder in Muizenberg! Dis 'n lewensvatbare taal wat deesdae gepraat word soos hy op die tong lê - rond , ryk en lekker.
Sewe mense staan voor my in 'n tou om teaterkaartjies te koop. Hulle verskil van ras, kleur, gelaatstrekke en tongval , maar hulle geséls en beduie vir 'n vale! Ons(e) Afrikaans vloei en vermeng in 'n seintuur van kleur.
Daar was mos 'n tyd toe ons voorgeskryf is dat ons moes praat soos ons skryf, maar  deesdae is die bordjies verhang - ons skryf nou soos ons praat.  Rigiete woordelyste en spelreëls is beslis nie meer die Alfa en die Omega vir die Afrikaans van die gewone man-in-die-straat, of gesin-by-die-huis nie.

Ek onthou nog goed watter doodsonde die gebruik van 'n enkele anglisisme in die klaskamer of koerant, op die kateder en kansel was in die jare van isolasie en voorskriftelike taalpuriste. Die infiltrasie van alles wat durf waag het om anders te wees, was met agterdog bejeën en afgekraak. Wee die spreker wat sou waag om "slang" te gebruik! Afrikaans was eens op 'n tyd so styf toegedraai soos 'n mummie (" teen mot of roes bewaar"!).
Afrikaans van die 2000's het egter 'n fris, nuwe vitaliteit. Om al die reënboogsprekers te akkommodeer, is Afrikaans vinnig aan't muteer (die teken van aanpasbaarheid), om by te bly en te oorleef. Tussen die dialekte en aksente in die volksmond, herken en waardeer jy steeds jou moedertaal met sy idioom, humor en nuanses. Dit verg egter die regte instelling of houding van verdraagsaamheid, van lééf en laat leef. Afrikaans gooi ook oor na die ander tale van ons naastes - "ja, sommer lekker, broer!"
Ons taal het die basiese kleure van erfgoed, leengoed en eiegoed, maar met die draai van die eeu het nuwe skakeringe bygekom - innoverende etniese goed en stimulerende elektroniese goed wat ons taal weer 'n hupstoot gegee het, 'n lekker vitaliteit , soepelheid en woema. Net soveel as wat ons spreektaal miskien aan assimilasie en vereenvoudiging afgestaan het, net soveel plek is weer gemaak vir 'nuwe bloed'. Hier in ons reënboogland het ons taal losgeruk van die kniehalters; Afrikaans gedy, bars uit sy nate uit en ons gooi die taal! Jy kan 'n reënboog nie voorspel, inperk of afkamp nie. Dis die taal met die belofte van 'n pot goud vir wenner wat wil aanhou!
Hierdie belofte is deels ook te danke aan die nuwe invloede wat onafwendbaar  ingesluip het - selfoontaal, digitaal, vaktaal en nuutskeppinge om in pas te bly met die voortsnellende eeu. Ons kan rock op die Rittelfees en raas op die rugbyveld... in Afrikaans. Ons kan in ons nuwe kaalvoet, kaalvuis Afrikaans woeker en wedywer, sing, speel en skel, lag en kla!
Ek haal aan uit R K Belcher se gedig (oor die geraamte van  'n dooie voël), maar in konteks van die lewende Afrikaanse taal:
"Haal dan jou sakmes uit
en sny ‘n hol, wit beentjie uit sy bors
en maak daarmee ‘n fluit" 
                                                 (uit Voël)
 Viva, ons kan ons mos uitleef in Afrikaans!
 

No comments:

Post a Comment