Thursday, 4 August 2011

Snuffel

'n Snuffelstorie

So elke dan en wan vlug ek op 'n winderige dag van Strand af Stellenbosch toe.  In meer beskutte smal straatjies 'speel'
ek dat ek duisende rande het om na hartelus te spandeer. Eintlik is ek platsak, maar my ma het altyd gesê :"Wag maar , my kind, jou skip sal kom!" So, die hoop beskaam nie!

Intussen is dit vir my heerlik om salig-alleen rond te dool tussen die Eikestad se antiekwinkels en rond te snuffel . Een spesiale (anonieme) wegsteekwinkeltjie met die allermooiste antieke ware trek my aandag  - ek noem die plekkie sommer  na die eienares, Antie  K.

Dit gaan hoegenaamd nie vir my om die prys van hierdie antieke ware nie (want onthou ek kan dit mos nie régtig  bekostig nie!) maar bloot om die genot van die ontdekking daarvan, nie noodwendig die besit nie. Dit gaan vir my oor die interessantheid van 'n besondere stuk, sy herkoms, uniekheid en rariteit, of soos die Engelsman dit uitdruk, sy  "appeal" Onthou ek is maar 'n leek op hierdie gebied, net 'n eenvoudige mens wat van ou dinge met mooi stories hou.

So tussen al die ryk antieke weelde vloei die gedagtes  soos 'n  storiefontein uit my kop!

In my geestesoog sien ek die ouerige tante wat jare lank tydsaam, maar geduldig by 'n venster gesit en skep het aan die 'hardewerk'-laslapdeken terwyl sy ure in haar rystoel moes deurbring, ek sien die bruid in haar fyngeborduurde bloes met die pêrelkragie en 'n bossie pers viooltjies wat skerp afsteek teen haar spierwit handskoen om die ivoorhandvatsel van die parasol, 'n dame wat die fyn porselein-teekoppies teen die lig hou om van naderby te besigtig  - met haar pinkie gelig, nogal! Ek maak die Oosterse houtgekerfde kis oop vir die verborge skatte wat daarin verskeep was uit die Ooste ; ek steek my hand daarin na 'n visvurk  en -messestel van silwer met fyn monogram-graveerwerk op en loer na die prys. Ai!

Drome het geen perke nie , stories het geen einde nie; dit het geen prys nie en is onbetaalbaar.

Daar is  darem tyd om te gesels met die dame agter die lessenaar wat so bevoorreg is om tussen hierdie 'skatte' te mag werk. Sy vertel dat sy al oor die dertig jaar lank al daar werk. Ek vra haar uit oor die herkoms van  besondere antieke stukke, oor die tipe kopers wat kom inloer, of daar al ooit iets waardevols vermis was, wat tot dusver haar duurste en skaarsste artikels was, hoe en waar hulle aan al die antieke ware kom. Oor al hierdie stories kan ek 'n volume vol skryf!

Sy vertel van die winkelgebou wat voorheen 'n statige woning was , en wys vir my 'n outydse , geraamde sepia-foto daarvan. Sy brei uit oor die inwonende spook van die huis wat periodiek , maar onverwags afkom met die trap en kom 'inloer', en oor die eienares van die winkel se gereelde soek-ritte en -reise.

Dan bestel sy vir ons tee; ons is nie alleen nie , maar omring van 'n onsigbare, meeluisterende spook en baie aanvoelbare 'vibes'  afkomstig van die antieke.

Nee, sy sal nie omgee as ek iets skryf oor die winkel nie, maar ek mag nie adverteer nie. Goed so, dit bly dan anoniem, maar gaan snuffel gerus maar rond en kyk of julle die bron van my stories kan raakloop!

Dis dan  my gunsteling-antiekwinkel waar die nostalgie aanvoelbaar is, 'n winkel met 'n met 'n  ryk geskiedenis en die spesiale aroma van oudheid gemeng met die vertroeteling van versorging. Dis 'n plek waar geliefkoosde, maar uitgeleefde besittings 'n voorlaaste uitstalplek gekry het, dinge wat niemand op 'n tyd wou of kon erf nie, maar wat weer eens opnuut groot respek en plesier aan vreemdeling-snuffelaars, soos ek, verskaf.


'n Snuffelstorie

So elke dan en wan vlug ek op 'n winderige dag van Strand af Stellenbosch toe.  In meer beskutte straatjies 'speel' ek dat ek duisende rande het om na hartelus te spandeer. Eintlik is ek, soos gewoonlik, platsak, maar my ma het altyd gesê :"Wag maar , my kind, jou skip sal kom!" So, die hoop beskaam nie en ek snuffel maar!

Intussen is dit vir my heerlik om salig-alleen rond te dool tussen die Eikestad se antiekwinkels langs smal straatjies. Een spesiale (anonieme) wegsteekwinkeltjie met die allermooiste antieke ware trek my aandag  - ek noem die plekkie sommer Allerlei-Antiek.

Dit gaan hoegenaamd nie vir my om die prys van hierdie antieke ware nie (want onthou ek kan dit mos nie régtig  bekostig nie!) maar bloot om die genot van die ontdekking daarvan, nie noodwendig die besit nie. Dit gaan vir my oor die interessantheid van 'n besondere stuk, sy herkoms, uniekheid en rariteit, of soos die Engelsman dit uitdruk, sy  "appeal" Onthou ek is maar 'n leek op hierdie gebied, net 'n mens wat van ou dinge met mooi stories hou.

Daar sal ek oor 'n pragtige 'hardewerk'-laslapdeken wonder, met my hand oor daardie Chinese houtgekerfde kanferkis  streel, die wit handgeborduurde troubloese voor die winkelspieël teen my eie bors hou, 'n bypassende sambreeltjie met die ivoorhandvatsel guitig in die rondte draai en "pose", die fyn porselein-teekoppies teen die lig van naderby besigtig (met my pinkie gelig, nogal!).Ek bewonder 'n visvurk  en -messestel van silwer met fyn graveerwerk op en loer na die prys. Ai!

Dan vat my gedagtes maar die pad  'storieplek' toe. In my geestesoog sien ek die ouerige tante wat jare lank tydsaam , maar geduldig gesit en skep het aan die laslappies terwyl sy ure in haar rystoel moes deurbring, ek sien die bruid in haar fyngeborduurde bloes met die pêrelkragie en die bossie pers viooltjies wat skerp afsteek teen haar spierwit handskoen om die ivoor van die parasol. Ek maak die houtkis oop vir die verborge skatte wat daarin verskeep was uit die Ooste en ek steek my hand daarin.

Drome het geen perke nie , stories het geen einde nie.Jy kan dit ook nie koop nie.

Daar is  darem tyd om te gesels met die dame agter die lessenaar wat so bevoorreg is om tussen hierdie 'skatte' te mag werk. Sy vertel dat sy al oor die dertig jaar lank daar werk. Ek vra haar uit oor die herkoms van  besondere antieke stukke, oor die tipe kopers wat kom inloer, of daar al ooit iets waardevols vermis was, wat tot dusver haar duurste en skaarsste artikels was, hoe en waar hulle aan al die antieke ware kom. Oor al hierdie stories kan ek 'n volume vol skryf!

Sy vertel van die winkelgebou wat voorheen 'n statige woning was , en wys vir my 'n outydse , geraamde sepia-foto daarvan. Sy brei uit oor die inwonende spook van die huis wat periodiek , maar onverwags afkom met die trap en kom 'inloer', en oor die eienares van die winkel se soek-reise. Dan bestel sy vir ons tee; ons is nie alleen nie , maar omring van 'n onsigbare, meeluisterende spook en baie aanvoelbare 'vibes' afkomstig van die antieke.

Nee, sy sal nie omgee as ek iets skryf oor die winkel nie, maar ek mag nie adverteer nie. Goed so, dit bly dan anoniem, maar gaan snuffel gerus maar rond en kyk of julle die bron van my stories kan raakloop!

Dis dan  my gunsteling-antiekwinkel waar die nostalgie aanvoelbaar is, 'n winkel met 'n met 'n  ryk geskiedenis en die spesiale aroma van oudheid gemeng met die vertroeteling van versorging. Dis 'n plek waar geliefkoosde maar uitgeleefde besittings 'n voorlaaste uitstalplek gekry het, dinge wat niemand op 'n tyd wou of kon erf nie, maar wat weer eens opnuut groot respek en plesier aan vreemdeling-snuffelaars, soos ek, verskaf.



No comments:

Post a Comment