Thursday, 4 August 2011

Reüniekoors

Óf jy haat die gedagte aan 'n reünie, óf jy sien daarna uit! Myns insiens hou 'n mens se instelling teenoor so'n samekoms na verloop van baie jare, beslis verband met jou selfbeeld, gesondheid en natuurlik waar jy jou op daardie stadium bevind.


Jy ontvang op ‘n dag 'n lys name deur die pos van een of ander oud-leerling of kollega wat die inisiatief wil neem om so 'n reünie te reël. Die eerste reaksie is beslis verrassing - daarna skop die twyfel en bedenkinge in! Ou foto's word opgeraap om jou te vergewis wie was destyds waar saam met jou in 'n klaskamer of werkskantoor. Dis gewoonlik dan dat die besluit klaar in jou onderbewuste geneem word, al dink jy jy moet jouself nog oortuig of jy regtig lus het daarvoor of nie.


Kom ons veronderstel jy is wel lus daarvoor. Nou moet jy help opspoor, kontak maak, navraag doen en help met die koördinering. Dis nie ‘n ligte takie nie, want "soveel hoofde, soveel sinne!" Elkeen wil sy eiertjie lê, al het hulle jare afsonderlik rondgeskrop op eie werf….


Ek hoor al die reaksies op my brief aan klasmaats van soveel jaar gelede!
"Ag nee,tog nie weer nie...";
"Ek wonder of ek hulle sal herken...";
"Waaroor praat mens met die ouens?";
"Jinne, dit sal nou vir jou 'n ouetehuis-parade wees!";
"Wat sou van so en so geword het?";
"Ek wonder of my ou skoolvryer nog leef?"


Die eerste reünie van ons destydse ou Matriekmaats was in 1990. Van die agt en veertig was ses en dertig teenwoordig, nogal met hulle gades! Party van die afwesiges woon in die buiteland, drie is intussen oorlede, 'n paar het slap verskonings uitgedink.


Die ou skoolkoshuis het gratis verblyf verskaf oor die spesifieke langnaweek, die kerk sou instaan vir drie middagetes, en die plaaslike koerant was oorgehaal , gereed vir ons ontvangs. ’n Dinee is vir eie koste gereël en die dominee sou ons Sondag in die ou NG-kerk verwelkom - gewese lidmate en ander sondaars ook!


Die 'uitkenningsparade' was op die rugbyveld van Vryheid Hoërskool, Kwazulu-Natal. Nogal sports as jy destydse maer seuns nou tussen die boepensbrigade moet uitken en maak asof hulle niks verander het nie! ("Haai, moenie maak asof jy my nie meer ken nie!") Om van die mooie meisies nie te praat nie - ons uurglas-lyfies het beslis met die jare gedy.


Wanneer die her-kennismaking verby is, begin die gesels en uitvraery - daar word eers land en sand uitgewei oor kinders se prestasies en eie "achievements", dan kom die klagtes oor pyne en skete en "wie's dood?"


Teen aand se kant is die gesels se straaltjie heelwat dunner, want baie water het oor die jare in die see geloop. Jy't uitgesorteer by wie jy graag aan die dineetafel wil sit, en vir wie jy nou regtig nie eintlik meer lus het, of kans sien nie!


Hoofseun maak verwelkomingstoespraak, Kaptein van die Sestigers se Eerste Rugbyspan vertel van die ou dae se wenwedstryde, Mooiste Skoolmeisie vertel van haar ou bewonderaars wat tussen die gaste sit en in die aarde wil insak van verleentheid (want onthou hulle is nou vet en bles!). Iemand lees uit haar ou autograph-boekie waar daar in die Muur van Vriendskap geskryf staan:


"When after many years have gone by
and over this page you cast your eye,
remember a friend sincere
that held your friendship dear!"


'n Hele paar koppe sak bewoë. Ja, die jare stap aan. By die volgende reünie (DV) sal ons heelwat minder wees.


Man, maar was dit nou vir jou 'n fees! Onthou mens leef net eenkeer. Gaan gerus volgende keer. My vyftigste is net om die draai in 2010 – baie interessanter as die beoogde Wêreldsokker!



No comments:

Post a Comment