Ons Rand-munt het mos twee kante, kruis of munt– die dinge wat jy mis jy wanneer jy land-uit is, en lastighede tuis wat steeds bly neuk, jeuk en krap. ‘n Mens hunker mos altyd so nostalgies na die aangename bekende , maar veroordeel onomwonde en kaalvuis die tekortkominge en gebreke van jou eie land.
Charlize Theron het glo tydens haar onlangse besoek 'n belustiging vir die Suid-Afrikaanse tamatie-gegeurde Simba chips bekendgemaak; vir my uitgeweke Kanadese kinders was die gemis aan familie in die vreemde te erg. En jy? Waarsonder is die lewe in Suid-Afrika vir jou ondenkbaar, waarvoor is jou “craving”? Waaroor het jy egter 'n appeltjie te skil, of 'n eiertjie te lê?
Snaaks hoedat ons heel eerste aan kos dink as dit nie verkrygbaar of byderhand is nie. Dis maar natuurlik, want loop die pad na ‘n mens se hart dan nie deur jou maag nie?
Ek kan op al tien my vingers my tel wat ek van Suid-Afrika se lekkernye mis as ek my tydelik die buiteland bevind: ‘n lekker ryp avokado, waatlemoenstukke-konfyt, ‘n kweperrol, putu-pap,Groenkloof se boerewors, rooi muskadel, skywe nat biltong....ag, die lys is so lank as mens na jou eie land se tradisionele kos hunker! " SOS! Ma, stuur ‘seblief rooibos en Mrs Ball's saam !
Kontrei
mmm
ek proe die see
in die geelstert
en glasuur kwistig
my porsie roostersnoek
met suurlemoen en appelkooskonfyt
daar’s bykos van
hotnotskool uit die kontrei
kerrieperskes en soetpatat
‘n dik sny bruinbrood met moskonfyt
en vir die laaste gaatjie nog
kraak ek
sappigsoet
‘n vet koesister
‘n Mens mis egter nie alleen die innerlike versterking nie - al jou sintuie protesteer mos tegelyk wanneer jy aan onttrekkingsimptome begin ly - in jou geestesoog. ruik, voel, sien en ervaar jy dinge wat jy daar in die vreemde vreeslik mis , waarna jy bly verlang en waarsonder jy nooit kan klaarkom nie - dinge wat jou bly terugroep na jou land…
Wanneer ek weg is uit my land, mis ek die soutlug van die see, die vars reuk ná 'n hoëveldse donderstorm, ‘n swerm blou kraanvoëls oor 'n geel canolaland in die Overberg, die helder Karoo-sterrehemel by Sutherland, ons dorp se kerkklok op 'n Sondagmôre. Ek verlang na ons Suid-Afrikaanse ruimte en velde, die skiereiland se manjifieke sonsondergange, ons lang wit strande waar jy met ‘n vlieër in jou hand, jou drome kan laat weghol…..
Wat is lekkerder as Kerstyd se somervakansies by die see, of samesyn van familie en vriende om 'n bosveldvuurtjie? Ons lekker Suid-Afrikaanse humor in advertensies is uniek, ons multi-dialek Afrikaans is pragtig, ons rugbykoors is aansteeklik.
Daar's egter dinge waaroor ek tob, dinge waaroor ek dankbaar is dat ek tydelik verwyder kan wees daarvan, dinge wat my hare laat regopstaan! Die ellendige kragonderbreking wanneer ek op my rekenaar werk, Deon Maas se snert, ras-behepte inbel-radioprogramme, plakkerskampe met begrafnisbeeste, help-ek-het-nie-werk-nie plakkate, plastiekgeraamtes teen ons Kaapse heinings, maak my alles die josie in! Die negatiewe lys is dus netso lank soos die positiewe – ses van die een en ‘n halfdosyn van die ander. Daar het jy dit nou, kaalvuis in die krop!
Ek wens ek kan 'n towerstaf swaai oor ons gebrekkige pendelvervoer, ons rommelbestrooide strande, ons sensasiebehepte ponie-koerante. Ek wens ek hoef nooit weer oor my skouer te loer as ek by 'n ATM is nie, of my donkerbril van my neus afgeruk hê by die verkeerslig nie. Ek wil weer saans gerus kan gaan stap.
Hopelik land my een-enjin vliegtuig darem veilig ;ek wens my reistas kom ook ongedeerd op die lughawe aan. SELA!
No comments:
Post a Comment